Sy het ‘n besonderse talent om die humor in alledaagse dinge raak te sien. Haar oog vir die komiese en absurditeit van die lewe lei tot stories waarmee almal kan vereenselwig. Met ‘n skerp sin vir ironie en ‘n liefde vir die onverwagte, weet Mel du Toit, onder haar aanhangers bekend as Mel die Storieverteller, hoe om haar gehore te laat skaterlag, altyd met ‘n glimlag op haar eie gesig.

Sy het van kleins af stories geskryf, vertel dié internetsensasie wat met haar debuutproduksie, Almal is mal , 400 sitplekke in die Atterbury-teater twee weke voor die openingsaand uitverkoop het. Daarna het haar loopbaan vlamgevat en as ‘n mens na die blad kyk waarop sy toekomstige vertonings adverteer, is dit duidelik dat sy haar gehoor behoorlik aan die brand praat. “Ek het as kind wakker gelê en stories uitgedink.

Elke storie moet ‘n einde hê en ek raak geheg aan die karakters. Ek het altyd gedink almal is so, maar het eers later besef dat ek ‘n unieke talent het,” vertel sy. ‘n Passie vir stories en vertelling Op skool het Mel se ma vir haar Nataniel se boek Tuesday , ‘n versameling kortverhale, aangeskaf.

Sy het dan die tekste verkort, gememoriseer en by die skool opgevoer. “Ek is ook ‘n groot fan van Tolla van der Merwe en het die stories wat hy destyds op die TV-program Maak ‘n Las vertel het, opgeneem sodat ek die woorde kon leer en dit met ‘n rugbyhoed, -trui, en boeppens kon vertel.” Mel sê sy het gesien hoe die kinders en onderwysers dit geni.